Thursday, October 11, 2012

Admin se begin

Toe ons geopen het, was die hele Admin 'n totaal van 5 mense (teenoor vandag se 32 personeellede).
Tannie Sylvia Boshoff (ook ons eerste personeellid wat by RPPH op pensioen gegaan het) het die boeke gedoen - krediteure en debiteure.
 Kyk, sy het geweet hoe om geld in te vorder - sy het sommer maklik in haar motor geklim, na die ou toe gery en gese "as jy nie nou betaal nie, vat ek jou rusbank of TV".
Die begin jare het dit maar finansieel moeilik met ons gegaan - dan het sy vir die skuldeisers gese "die tjek is in die pos" of "jy sal dit nou nie glo nie, maar die tjek is uit ons bode se kar uitgesteel". En so het sy die betaling gerek tot daar geld in die bank was.
Sy was en is 'n ware Rhino Parker wat altyd deel van hierdie hospitaal en ons almal wat haar ken, se harte sal wees.


Prisilla Daniels het ons rekening gebill. Vir baie jare was sy billing, telefoniste, het teaterbesprekings gedoen, en nog seker gemaak die rekening is reg vir indiening, ens. Sy't nou haar storie geken, hoor.
Ons is baie trots op haar, want sy het gaan verder studeer en is vandag 'n senior Maatskaplike werkster.


Dan was daar Lorraine Adams as ontvangsdame/telefoniste.

Ekself as Admin bestuurder - later het Tannie Erika Von Holtz by my oorgeneem in Admin, omdat ek die apteek ook alleen moes hanteer saam met die Hospitaal se bestuur. En kon hierdie tannie vloek!! 'n Matroos sal sleg tweede kom teen haar.
En gelukkig vir ons almal, het Corna in 1997 permanent by ons aangesluit as Finansiele Direkteur.

En natuurlik was Georgie de Scande ons "Boy Friday" - bode en sommer algemene hand.
George was 'n karakter op sy eie, maar die dierbaarheid van self:
Ek moes een naweek Midgard toe vir 'n hospitale kongres, en ek stuur toe vir George om gou my splinter nuwe Golf vol petrol te maak. Hy besluit toe hy vat sommer gou 'n koffie-breek terwyl die kar by die garage is - los die sleutel in die motor - en ja, vanselfsprekend word die motor toe summier gesteel.
Hier sit ek sonder vervoer, moet 'n lift vang kongres toe - en hulle kry my nuwe Golf later die dag in Katutura om 'n lamppaal gedraai. Die dief kon toe nie so goed bestuur nie - en hy is glo net die vorige week vrygelaat na tronkstraf vir ...... wat anders as motor-diefstal.

No comments:

Post a Comment