Tuesday, October 30, 2012

Esme, Corna & Maintenance

Vir die eerste 15 jaar het ek, en later ook Corna, die hospitaal se Maintenance ook gedoen. Ons het suurstof silinder op die gasbank geruil, later die suurstof dumpies, en ook gesorg dat die Generators en compressors en alle masjiene in 'n werkende toestand is - en ook al die ander instandhouding wat nodig was.

Gevolglik was ons ook vir hierdie tipe van gebeurlikhede oproep. Nou weet julle hoe senuwee-orreltjie Corna kan wees.
Dus kan jy jou sekerlik indink hoe daar gestress is as ons 'n oproep oor die gasbank of Generator kry. Dan spring ons in die kar en ek jaag van Avis af soos geen taxi my kan nadoen nie - en Corna word net al stiller en bleeker.
Hier by die hospitaal aangekom, hol Corna reguit vir die gasbank en ek vir die ICU om te hoor of almal nog lewe wat moet lewe. As ek seker is al die masjiene met batterye is in 'n werkende toestand - en wel aangeskakel - dan storm ek ook om gasbank toe om vir Corna te help silinders ruil.
Nou weet julle ook dat ek breer as lank is - en die gas-silinders omtrent net so hoog soos ek staan - maar julle het my nog nie op 'n adrenalien rush gesien nie. Ek en Corna het 'n gesamentlike tegniek uitgewerk waarmee ons 'n suurstof bank kon ruil vinniger as wat enige van Afrox se ouens ons kan nadoen.
(en arme Corna het gewoonlik eers weer terug by die huis kleur op die wange gekry).

Dan was die krag mos maar nog altyd 'n teer en groot stress punt (seker maar in enige hospitaal).
Ek onthou die een keer wat ek en Mnr Van Niekerk gestaan en gesels het. In die begin dae het ek nog rompe gedra - sulke grand pencil skirts. Wel, daardie dag slaan die krag af, en die generator skop nie in nie! Mens maar ek en Mnr Van Niekerk vloog daar weg en ons hardloop. Nou weet julle Mnr Van Niekerk se normale tree is in elk geval 2 van my kort treetjies; wat nog te se as hy opspoed is!!
Maar ek gryp daai ou rompie, ruk hom op tot net dus kant Poeremoe, en hol skoon onder Mnr Van Niekerk uit!!
Ek dink amper dit was die laaste keer wat ek 'n rok/romp gedra het.

Tannie Sylvia wat by Admin was, het altyd geblaas as sy gespanne geraak het. En Corna tel altyd as die krag afslaan - as die generator nie binne 10 tellings inskop nie, dan begin Corna hardloop. Nou lag Corna en se sy en Tannie Sylvia het altyd teen mekaar geblaas en getel as die krag afgaan!!!

Kyk daar is omtrent niks waarvoor Corna se hande nie regstaan nie. Kyk maar net na al die aanbouings: Corna is die een wat al die planne teken (natuurlik terwyl ek hier oor haar skouer orders gee en inmeng).
Dan word haar planne net vir die argitek gegee vir die professionele afronding.

Julle moet vir Corna sien as daar 'n water lek in die Munisipaliteit se watermeter-gat is. Sy is gewoonlik voor die mans binne in die gat en sorteer dinge sommer vinning-vinnig uit.

Maar dankie tog, deesdae is ons geseend met 'n fantastiese Maintenance-span onder leiding van Dumont Karupa. Wat beteken ek en Corna kan rustig wees.




No comments:

Post a Comment