Friday, October 12, 2012

Besoekende Spesialiste

Julle moet nou onthou ons was op hierdie stadium 'n DAG hospitaal. En het hoofsaaklik Tande-prosedures gedoen.
Ons het floreer op besoekende Tandheelkunde Spesialiste soos Dr Costa Nicolopolis, Dr Hans van Heerden en Dr Gerrit Wyma. Hierdie manne het een keer per maand Windhoek toe gekom en dan die dae wat hulle hier was, geopereer dat die biesies bewe.

Dr Costa Nicolopolis: Hierdie jong Griekie het ons almal onder die tafel ingewerk. Hy't net nie einde gehad nie. Hy het soggens 07h00 begin en maklik deurgewerk tot 02h00 die volgende oggend en dan weer 07h00 begin met sy volgende lys. Vanselfsprekend moes sy laaste pasiente dan opgepas word tot hulle gereed is vir ontslag; wat meegebring het dat ons maklik 48uur of meer aandiens moes bly.
En onthou, ons was toe min personeel. Dan het ek so laat aand se kant my klein braai-roostertjie by die huis gaan haal (ek het toe so skuins oorkant die hospitaal gebly - waar die fisioterapeut Isaaks se spreekkamer nou is, was toe my huis), en dan vir die span aandiens vleis gebraai - sommer so in die dokters lounge (van alle plekke!!!!!!).


Dr Costa het gelewe van Soda-water en dougnuts. En nie sommer enige dougnut nie - 'n spesifieke een met 'n gat in die middel. Dan moet ek alle tye van die dag jaag om VARS dougnut te gaan soek.
Ek het later moeg geword vir hierdie rondjaery, en 'n klomp dougnuts gekoop en in die komper-kamer op die waaiers gestoor sodat dit "vars" moet bly!!

Dr Hans van Heerden weer het nogal spesifieke voorkeure oor etes gehad. En daardie tyd het ons vanselfsprekend nog nie 'n kombuis gehad nie. Dan moes ek spesiale kosse/etes laat maak - soms self by tannies se huise - en dit gaan haal vir Dr Van Heerden.

Dat hierdie besoekende spesialiste 'n groot bydrae tot Rhino Park Hospitaal gelewer het, is nie te betwyfel nie. Ons het mooi herrinnering van hulle tye saam met ons. En ons sal altyd dankbaar teenoor hulle en hul bydraes wees.

Ps. Jy het niks om oor te kla as jy nog nie deur 'n dokter raak gegooi is met 'n brotchen nie. Ek is al.
So, geniet en waardeer julle dokters!



No comments:

Post a Comment